Something I said in my previous blog created such a stir that I decided to post a fuller account. Pressed for time, I am posting the Afrikaans version – yes, that is my mother tongue. However, I would be happy to translate it into English if someone requested that.
DIE BYBEL EN DIE WOORD VAN GOD
As gevolg van die feit van God se andersheid en uniekheid, is dit onmoontlik om sy attribute sowel as sy dade, volledig in menslike taal weer te gee. Dit is egter ook so dat taal en die vermoë om taal te gebruik, ‘n onderskeidende kenmerk van die mens is, een van die kenmerke wat ten nouste verbind is aan die vermoë van die mens om te dink. Laasgenoemde is waarskynlik een van die belangrikste aspekte waarin ons “na die beeld van God” geskape is. Dit is dus moontlik om ten minste so na as wat ons daaraan kan kom om enigiets wat met God te doen het, te verstaan, dit ook in menslike taal te beskryf. Solank mens voortdurend in die gedagte hou dat ons deur middel van die omskryfbare en begrensde, die onomskryfbare en onbegrensbare probeer benader.
Die Woord van God is dit wat God sê. “Sê” in die sin van uitdrukking gee aan wat in die gedagte van God is. Dit mag wees dat dit kommunikasie is, soos wanneer Hebreërs sê dat Hy op baie manier gespreek het, en uiteindelik ook deur sy Seun. Johannes noem dan ook die Seun die Woord van God. Dit beteken dat God deur Jesus Christus gepraat het.
Dit is ook soos toe Hy die skepping daargestel het. Deur sy woord het God die skepping daargestel. Sy spreke was in hierdie geval tegelykertyd ook aksie, wat die skepping laat ontstaan het.
Dit is onmoontlik om dit wat God gesê het en nog sê op te neem soos mens met bandopnames ander klanke kan opneem. Dis ondenkbaar dat die kragtigste opnametoerusting in die wêreld dit sou kon opneem. Daarom het God sy spreke op ander wyses laat “opneem”.
‘n Uitvloeisel van die beeld van God in die mens en die daaruit voortvloeiende ooreenkomstes, is die feit dat die mens in staat is om God se spreke te ontvang. Deur die kommunikasie wat plaasvind tussend ie gees van God en die gees van die mens, is dit moontlik vir mense om God te “hoor” met hulle “praat”. Verskillende mense ontvang hierdie spreke van God op verskillende wyses, in ooreenstemming met hulle eie ingesteldhede. Bv. die persoon wie se eie uitdrukkingswyses hoofsaaklik deur middel van taal plaasvind, sal die spreke van God as woorde of sinne, selfs enkele sinsnedes, “ontvang”. Mense wie se uitdrukkingswyses meer visueel is, bv. skilders ens. mag God hoor deur middel van visuele beelde, “gesigte” ens.
Woord van God is deel van die openbaring van God, maar dit word tog so gespesifiseer om dit te onderskei van ander wyses van openbaring deur God wat nie spreke insluit nie. Psalm 19 beskryf eers die openbaring van God deur die natuur, en kom dan uiteindelik by die openbaring van God wat deur middel van die gesproke woord plaasvind.
Die Bybel word dikwels die Woord van God genoem, omdat dit openbarings van God bevat, neergeskryf in die vorm van taal. Die Bybel kan egter nie werklik as die Woord van God beskou word nie, omdat die Woord van God alles is wat God gesê het, en die Bybel kan dit nie bevat nie. Johannes sê selfs van Jesus dat al die boeke in die wêreld nie alles sou kon bevat wat Hy gesê en gedoen het in die bestek van drie kort jare op die aarde nie. Hoeveel te meer sou dit onmoontlik wees dat alles wat God nog ooit gesê het, in ‘n boek vasgevang kon word.
Die proses waardeur die Bybel tot ons gekom het, maak dit ook onmoontlik om dit met die Woord van God soos hy dit uitspreek, te identifiseer. Mense het geskryf wat in die Bybel staan, en dit beteken noodwendig dat daar “foute” in moet wees. Daarby het die proses van oorlewering daartoe bygedra dat dit nie so suiwer kan wees as wanneer God self dit uitspreek nie.
Die Bybel bevat dinge wat sentreer rondom God se Woord, soos wat God gesê het, sowel as die beskrywing van die reaksie van mense op wat God gesê het, God se handelinge met mense, mense se hantering van die omstandighede van die lewe volgens wat God gesê het, of nie daarvolgens nie. Die Woord van God in die Bybel is veral op die voorgrond in die beskrywing van die aardse lewe en bediening van Jesus. Maar benewens die Woord van God, bevat die Bybel ook geskiedkundige gegewens, wat begin met die Bybelse verhaal van die skepping, deur die vroeë geskiedenis van die mensdom (in die mate waarin dit relevant is vir wat die Bybel eintlik wil sê), die geskiedenis van Israel as volk (sowel as God se volk en ‘n gewone politieke en staatkundige entiteit), die geskiedenis van volke rondom Israel, en die geskiedenis van die eerste kerk. Die teologisering in die briewe van die apostels is in groot mate ‘n poging om die gegewens wat hulle meen uit dit wat God gesê het, te haal is, te sistematiseer.
Wat is dan die verhouding tussen die Woord van God en die Bybel? Die Bybel bevat daardie dele van die Woord van God wat God weet vir die mens nodig is in die lewe op aarde, en as voorbereiding vir die lewe hiernamaals. Iemand het gesê “Jesus kom uit die bladsye van die Bybel na my toe.” Ons leer Jesus – as volmaakte openbaring in aardse terme van die Woord van God – in die Bybel ken.
God het nog nooit opgehou praat nie. Hy praat vandag nog met mense uit die Bybel. Dis die ondervinding wat mense het as hulle sê dat ‘n Skrifgedeelte skielik op ‘n dag vir hulle “lewendig geword het”. Die Bybel speel ook verder ‘n rol in hierdie hendendaagse spreke van God, in die sin dat dit mens voorberei daarop om van God te hoor. Deur van Hom deur die Bybel te hoor, leer mens die waarheid dat Hy praat, en nog wil praat. Mens leer ook iets van sy gedagtegang, sodat jy voorbereid is daarop om te hoor wanneer Hy met jou praat. Omdat die Bybel so ‘n omvangryke gedeelte van God se openbaring bevat, dien dit ook as objektiewe norm om dit wat mens dink jy van God gehoor het, te evalueer om te bepaal of Hy dit werklik sou kon gesê het.
Leave a Reply